Devmark stel eerste YUCO-ontwikkeling bekend
13 May 2021
Die toonaangewende eiendomsgroep Devmark het sy eerste YUCO-ontwikkeling vir coliving in Suid-Afrika bekend gestel. YUCO sal deel wees van die nuwe Galleria-distrik, ’n ambisieuse 11,4 ha-ontwikkeling vir gemengde gebruik in Tygervallei in die noordelike voorstede van Kaapstad.
Dejane Steyl, hoof van bemarking by Devmark, sê die Galleria het reeds sowel nasionale as streekshoofkantore gelok, asook ’n internasionale vermaaklikheidsmaatskappy. “Die strategiese ligging in die middelpunt van Kaapstad se tweede middestad beteken dat die ontwikkeling voordeel trek uit die bestaande infrastruktuur insluitend paaie en
dienste, deurgangsroetes en veselnetwerke. Dit sal dien as middelpunt waar mense bymekaar kan kom vir sake-, sosiale en kleinhandelaktiwiteite. Deel van die ontwikkeling se aanloklikheid is die omvattende geleenthede vir leef, werk en speel met die wynlande as agtergrond, nabye instellings vir hoër onderwys sowel as omvattende geriewe.”
Die ateljeewoonstelle bied luukse verblyf en moderne geriewe.
Steyl verduidelik dat YUCO ’n eklektiese gemeenskap is vir jong professionele mense, studente en sakereisigers.
“Die naam YUCO is ’n afkorting wat afgelei is van your urban co-living space, oftewel jou stedelike woonruimte. Die verblyf bestaan uit ten volle gemeubileerde ateljeewoonstelle met al die nodige luukse geriewe. Die term co-living verwys na ’n vorm van saambestaan in ’n ruimte waar inwoners geriewe en gemeenskaplike ruimtes deel, wat bydra tot ’n gesellige leefstyl.”
Sy voeg by dat co-living veral gewild is in stede waar behuising duur en beperk is, aangesien dit ’n meer bekostigbare en geriefsgerigte leefstyl bied.
“Dit geval oorwegend millenniërs as gevolg van stygende eiendomspryse. Inwoners van mede-woonruimtes wissel gewoonlik tussen die ouderdom van 19 en 40 jaar, aangesien die laer lewenskoste by hul leefstyl pas en hulle deel word van ’n inklusiewe gemeenskap.”
YUCO bied ’n keuse uit 380 ateljees wat weekliks skoongemaak sal word. Geriewe sluit gemeenskaplike ruimtes soos vergader-, studeer- en werksruimtes in, ’n gimnasium, koffiekroeg, sitkamers, kroeg en speelplek, asook gemeenskaplike kombuise op elke verdieping en ’n binnehof met ’n swembad, buite-gimnasium, vlugbalbaan en meer. Pryse wissel tussen R659 000 en R1 050 000.
Die vooraansig van die YUCO-ontwikkeling, ’n eklektiese gemeenskap vir jong professionele mense, studente en
sakereisigers.
“Ons is ongelooflik opgewonde om YUCO te loods. Dit sal beslis ’n groot leemte in die mark vul, aangesien daar ’n tekort aan geskikte verblyf is wat op hierdie spesifieke teikenmark gerig is. Dit bied uitstekende geleenthede vir sowel beleggers as kopers,” sê Steyl.
Die Galleria gaan ’n nuwe stedelike middelpunt word, ’n sentrale bestemming in Kaapstad vir sakelui, korporasies, kleinhandelaars, organiseerders van geleenthede, verbruikers, toeriste en plaaslike inwoners. Die ontwikkeling sal ’n vierster-hotel, kleinhandel- en kommersiële ruimtes, leefstyl- en ontspanningsbedrywighede insluit, asook YUCO, die eerste in sy soort in Suid-Afrika.
Vir meer inligting, besoek YUCO se webwerf of bel Juanita Blaauw by 082 438 1369, André Cilliers by 079 517 2927 of Pieter de Swardt by 083 460 8137.