ELEVATION PERSPECTIVE

Galleria kom op dreef

02 June 2021

Ná jare van onderhandelinge begin die beplande Galleria-distrik by die Bellville-velodrome nou op dreef kom.
Die ontwikkelaar Devmark het onlangs planne vir sy Yuco-saamleefontwikkeling bekend gestel, wat in die distrik geleë gaan wees, met ateljees wat klaar te koop aangebied word. Die Galleria-distrik word al jare lank vir die area langs die velodrome beplan. Ontwikkelaars beloof dit gaan onder meer ’n luukse hotel, winkels, restaurante en woonstelle insluit. Bouwerk sloer egter al jare weens ’n hofgeding tussen Devmark en die Stad Kaapstad.

Devmark wou nie ’n bykomende R25 miljoen betaal wat die Stad vereis het vir die verbetering van die omliggende padnetwerk nie. Die twee entiteite het in 2019 ’n ooreenkoms bereik – tien jaar nadat die Stad aan Devmark die
tender toegestaan het.

Groot planne

Devmark sê nou sy Yuco-ontwikkeling behoort as deel van fase een van die projek al in 2025
klaar gebou te wees.

Dejane Steyl, bemarker van die Devmark-eiendomsgroep, sê fase een behels ’n winkelsentrum
van 33 700 m², parkeerarea van vyf vlakke, viersterhotel, kantoorruimte en 660 wooneenhede.

“Die Galleria het reeds sowel nasionale as streekhoofkantore gelok, asook ’n internasionale
vermaaklikheidsmaatskappy. Die strategiese ligging in die middelpunt van Kaapstad se tweede
middestad beteken dat die ontwikkeling voordeel trek uit die bestaande infrastruktuur, insluitend
paaie en dienste, deurgangsroetes, asook veselnetwerke. Dit sal ook dien as middelpunt waar
mense bymekaar kan kom vir sake-, sosiale en kleinhandelaktiwiteite. Deel van die ontwikkeling
se aanloklikheid is die omvattende geleenthede vir leef, werk en speel met die wynlande as
agtergrond, nabye instellings vir hoër onderwys, sowel as omvattende geriewe.”

Devmark het ook die tender gekry om die erf te ontwikkel waarop die velodrome en atletiekbaan
staan.

Steyl sê die voltooide velodrome gaan deur Big Concerts bestuur word. “Die nuwe velodrome gaan 14 000 mense kan akkommodeer in plaas van die huidige 6 000 mense,” sê sy.

Besighede sal ook die ruimte kan gebruik om ander te onthaal – en met ’n hotel wat daar naby geleë is, is dit die ideale plek, sê sy.

Die Yuco-saamleefontwikkeling is die eerste een in Suid-Afrika, sê Steyl.

Sy verduidelik dat Yuco ’n eklektiese gemeenskap is vir jong professionele mense, studente en sakereisigers.

“Die naam Yuco is ’n afkorting wat afgelei is van your urban co-living space, oftewel jou stedelike woonruimte. Die akkommodasie bestaan uit ten volle gemeubileerde ateljeewoonstelle met al die nodige luukse geriewe.

“Die term saamleef (co-living) verwys na ’n vorm van saambestaan in ’n ruimte waar inwoners
geriewe en gemeenskaplike ruimtes deel, wat bydra tot ’n gesellige leefstyl.”

Geriewe sluit gemeenskaplike ruimtes soos vergader-, studeerkamer- en werkareas in, ’n
gimnasium, koffiekroeg, sitareas, kroeg en speelarea, asook gemeenskaplike kombuise op elke
verdieping en ’n binnehof met swembad, buite-gimnasium en ’n vlugbalbaan.

Sy sê saamleef is veral gewild in stede waar behuising duur en beperk is, aangesien dit ’n meer
bekostigbare en geriefsgerigte leefstyl bied.

“Dit spreek oorwegend millenniërs aan as gevolg van stygende eiendomspryse. Inwoners van
mede-woonruimtes wissel gewoonlik tussen 19 en 40 jaar, aangesien die laer lewenskoste by hul
lewenstyl pas en hulle deel word van ’n inklusiewe gemeenskap,” sê sy.

Yuco bied ’n keuse uit 380 ateljees wat weekliks skoongemaak sal word.

Pryse wissel tussen R659 000 en R1 050 000.